Twaalfuur op 'n Donderdagmiddag lê Nella Jonker van Valhalla in Pretoria roerloos op haar dubbelbed. Sy het nie die krag om op te staan nie. Haar huishulp verskyn met 'n bord vol dik snye brood en baie tamatiesous. Met 'n groot gesukkel help sy vir Nella orent en pak 'n klomp kussings agter haar rug. Nella is uitasem. Sy praat moeilik. Maar sy kan nie haar oë van die eetgoed afhou nie. In stilte doop sy die een sny brood ná die ander in die tamatiesous en steek dit in haar mond. Gou-gou is die bord leeg - en Nella wil nóg hê. Ná die tweede ruim porsie sak sy terug en staar na die plafon. Haar bors brand. Dit voel asof sy nie asem kry nie. Al waaraan sy dink, is dat dit oor vyf uur tyd vir aandete is. Nella voer al vier jaar lank kluisenaarsbestaan. Sy verlaat byna nooit die huis nie. Sy lê net op die bed en lewe van peuseltyd tot etenstyd. Sy kan skaars beweeg. Dit kan ook nie anders nie, want kort tevore het sy die skaal by 'n plaaslike hospitaal op 300 kg laat bewe. Sy is vasgekeer in 'n liggaam waaroor sy geen beheer meer het nie.
Vandag is die 47-jarige Nella 'n nuwe mens. Sedert 5 Februarie verlede jaar het sy met behulp van "die dieet waarvan almal praat" 'n verstommende 196 kg afgeskud en is vasbeslote om van nog sowat 30 kg ontslae te raak. "Ek was my hele lewe lank oorgewig," vertel Nella waar sy in 'n apteek in Centurion onder hande geneem word deur Ida Bester, die suster wat haar gewigsverlies weekliks monitor.
"Ek weet nie waar dit vandaan kom nie, want ek is die enigste in my familie wat altyd so vet was. "Op veertien het my ma my vir hormoonbehandeling na 'n dokter geneem. Ek het 'n dieet begin volg wat my byna niks toegelaat het nie - party dae het ek net 'n hard gekookte eier geëet. Ek het maerder geword, maar dit het my sewe jaar gekos om baie minder as nou te verloor."
Emosionele skokke soos die dood van haar eerste man en van haar ma later het Nella weer na brood en soetgoed laat gryp. "Eers het ek skelm geëet. Later het ek nie meer omgegee nie. Ek kon nie stysel los nie - dit het my beter laat voel.
Die kilogramme het aangegroei en ek het eindelik desperaat probeer wal gooi. Ek was op elke dieet onder die son, maar selfs hipnose en dieet-oorbelle het niks gehelp nie. "Toe los ek alles, want ek het besef ek mors geld en tyd. En van toe af het my gewig net toegeneem."
Nella se gesondheid het daaronder begin ly. "Ek het dit eers besef toe my man my op 'n dag dwing om dokter toe te gaan. Hy moes my in die motor ondersoek omdat ek te swak was om na sy spreekkamer te stap. Die diagnose was hartversaking en ek is gewaarsku ek is 'n risiko vir enige narkose of operasie." 'n Dieet van hoofsaaklik groente is voorgeskryf. Dit het Nella se bloeddruk laat verbeter, maar in agttien maande het sy byna geen gewig verloor nie.
"Ek het weer op 'n mallemeule van diëte beland - sonder sukses. Dit het my bedruk gemaak. Toe gee ek moed op. Ek het die kaste in die huis oopgemaak en vir my vir kinders gesê: 'Kom, vat wat julle wil hê.' Want ek het geweet ek sal weens kosverslawing doodgaan."
Haar dokter het haar gesoebat om nog een keer te probeer. 'n Vriendin het vir haar gebid en gesê sy moet self die eerste stap na 'n gesonder lewe neem. Nella het maande lank met die knipsel van 'n advertensie vir "die dieet waarvan almal praat" in haar sak rondgeloop voordat sy die moed bymekaargeskraap het om die nommer te bel.
"Ek het dié een gekies omdat hulle gesê het dis die dieet waar jy die lekkerste gaan eet." Sy sal 5 Februarie 1999 nooit vergeet nie. "Ek is met groot ongerief na die kliniek van die apteek in Centurion. Daar kon ek net twee treë op 'n slag gee, dan was ek uitasem. "Ek moes dwars by die kliniek se deur inskuifel. Ek was skaam, maar vandag weet ek dit was die beste ding wat ek nog gedoen het."
Die vrou wat haarself altyd op die goedereskaal by die stasie geweeg het, het in die eerste maand 40 kg verloor. "Vir die eerste keer het ek 'n dieet gevolg waarmee ek nie gekul het nie. Ek het nooit weer die begeerte gehad om my aan soetgoed te vergryp nie. Alle ander diëte maak jou honger, maar hier vat hulle die honger weg en jy speen jouself." Nella het haar kosverslawing oorwin.
"Dit het nie gevoel of ek 'n dieet volg nie." Dit is die basiese riglyn van dié dieet, sê Gert Coetzee, die apteker van Meyerton wat die dieet saam met sy broer, Josef, 'n apteker van Vereeniging, ontwikkel het. "Ek was self 'n bietjie oorgewig en het vroeër al die bekende diëte beproef. Dit het nie gewerk nie, want ek het telkens alles aangesit wat ek verloor het. "Ek het begin dink daar moet iets wees vir mense wat van kos hou, maar hul gewig wil beheer. Ek en Josef het navorsing gedoen en besef jy moet net kos eet waarvoor jou liggaam geskape is - die kos wat jou liggaam nie kan hanteer nie, moet verwyder word."
Gert-hulle gebruik geen poeiers of melkskommels as plaasvervangers vir kos nie. Daar is ook nie skaaltjies om kos te weeg nie. "Ons het nie 'n geheim ontdek nie, dit was net nugtere denke. Jy eet alle normale kos, maar elkeen word geleer om sy voedselinname te beheer. "Jy leer om anders oor kos te dink deur jou lewens- en denkwyse te verander. Daarom is die dieet aanpasbaar - mits jy jou kos ken, kan jy maar gaan uiteet of sosiale funksies bywoon. "Daar word nie op kilojoules gekonsentreer nie. Dit gaan oor wat jy eet en nie hoeveel nie." Die dieet word al die afgelope tien jaar aangebied. Daar is tans sowat sestig apteke waar 'n mens onder die toesig van die apteker van die vetrolle ontslae kan raak.
Nella is die broers se modeldiëter. "Oorgewig is erger as iemand met 'n gebrek," sê sy. "Ek sou makliker deur die lewe gegaan het sonder 'n been." Sy onthou hoe mense aanmerkings gemaak het, hoe kinders na haar gestaar het. "Ek moes op al ons vakansies in die motor bly sit terwyl my man en kinders buite baljaar het. Ek was jare lank van die buitewêreld afgesny omdat ek aan stysel verslaaf was.
"Ek het al baie gehuil en daar lê nog baie dae se vasbyt voor. Ek moet ook nog drie operasies ondergaan om vel te laat verwyder. Maar ek weet wanneer ek die laaste keer hier uitloop, sal ek eindelik tevrede wees met myself." Eintlik wou Nella nie oor haarself praat nie. "Ek doen dit net om aan ander mense in dieselfde bootjie te sê daar is hoop. En om dankie te sê aan God vir die mense deur wie hy my lewe verander het. "Wanneer ek vandag na 'n oorgewig mens kyk, sien ek my verlede. En wanneer hulle na my kyk, hoop ek ek kan hulle motiveer.
|